Kosmos Toere is vanjaar 15 jaar oud!
Ons het in 2011 ons eerste bussie gekoop. Na 15 jaar van harde werk, baie genade en wonderlike lojale toervriende kom ons by 2026 met 5 busse en ‘n uitgebreide toerprogram wat oor die jare beproef is.
Dit is met opregte erkenning teenoor elkeen wat ons oor die jare ondersteun het, dat ons met dankbaarheid 2026 kan binne gaan. Ons bring al die eer aan ons Hemelse Vader vir Sy oorvloedige voorsiening en bewaring deur die jare.
U sal opmerk dat daar aansienlik minder toere op ons 2026 program is. Ons wil die aftydjies tussenin net gebruik om rustig te raak, asem te skep, tyd te maak vir ander dinge in die lewe wat ook belangrik is en om 2027 aan te pak met nuwe energie, ‘n vars gemoed, nuwe idees en, heelwaarskynlik, ‘n paar nuwe items op ons jaarprogram.
As u dalk ‘n spesifieke toer in gedagte gehad het, maar wat nie op ons 2026 program verskyn nie, sal daardie toer heelwaarskynlik in 2027 weer sy kop uitsteek. Kontak ons nou reeds met u versoek vir 2027. Dit sal ons help met ons beplanning. As u ons hierdie jaar sou bel en ‘n foon word dalk nie geantwoord nie, staan ons dalk êrens rustig langs ‘n waterstroompie om ons siele te verkwik en daar dalk geen sein is nie. Laat gerus ‘n boodskap en ons kom verseker terug na u.
Baie dankie dat ons steeds kan staatmaak op u lojale ondersteuning.
Vriendelike groete
Andries & Liesl
VERSKEIE BESTEMMINGS REGOOR SUID-AFRIKA EN BUURLANDE
SAKPASTOERE VANAF BLOEMFONTEIN